Wonder jy of daardie soet, wit poeiertjie in jou koffie werklik gesond is?
(The raw questions and replies are also published and written in English in Organicflexitarian, on page 101 - titled: Sweeteners - Diet Nothing.)

Beeld - 19 January 2011

Gevaarlik soet of skadelose plesier?

Die lepels suiker in hul koppie koffie is een van die eerste luukshede wat verslankers uit hul lewe sny. Dié wat nie bitter koffie kan sluk nie, reik met dankbaarheid na kunsmatige versoeters, wat aspartaam bevat. Die soet poeiertjies of pilletjies troos jou soettand, maar sommige bly wonder of dit nie dalk hul gesondheid kan knou nie.
By ’n onlangse inligtingsessie wat deur Canderel aangebied is, is daar verduidelik hoekom aspartaam veilig is.
Voordat enige kos aan die mark bekend gestel word, moet dit ’n aantal toetse slaag, het me. Leigh-Ann Silber, ’n geregistreerde dieetkundige, by die inligtingsessie gesê.
“Die veiligheid van die kos moet deur ’n reeks dier- en mensstudies bewys word. Uitgebreide wetenskaplike navorsing het kunsmatige versoeters en aspartaam se veiligheid bewys. Die veiligheid daarvan is in meer as 200 wetenskaplike studies gedokumenteer.”
Die bevindings van ’n omvattende studie deur tien navorsers oor die veiligheid van aspartaam is in 2007 gepubliseer. Die navorsers het vorige studies oor aspartaam-veiligheid krities ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen bewyse is dat aspartaam skadelike nagevolge in die liggaam kan hê nie.

Aspartaam is orals
Die kunsmatige versoeter is volgens mnr. Jason Frichol, hoof van bemarking by Fore Good, verspreider van Canderel, een van die hoofbestanddele in meer as 6?000 produkte wêreldwyd, insluitend sommige jogurt, koeldrank, aartappelskyfies en medisyne.
Aspartaam is al omstrede sedert dit in die 1970’s in die VSA vir menslike gebruik goedgekeur is. Dit is weer die laaste paar jaar deur negatiewe publisiteit getref nadat ’n reeks “mites” per e-pos die rondte gedoen het. Frichol sê die interessantste mites wat hy al gehoor het, is dat “aspartaam gate in ’n mens se brein veroorsaak” en dat “aspartaam ’n biologiese wapen is wat in groot hoeveelhede in die lug gespuit word”.
“In die vroeë 1990’s het mense alles wat hulle op die internet of e-posse gelees het vir soetkoek opgeëet omdat daar min bewustheid was van geloofwaardige bronne,” sê hy.
“Kundiges het die e-pos-mites ondersoek en bevind die individu daarvoor verantwoordelik was nie ’n wetenskaplike nie. Die mites is ook deur erkende internasionale liggame en verenigings onwaar bewys.”

Gesond of nie?
Daar is ook al gefluister dat kunsmatige versoeters kanker kan veroorsaak. Silber en Frichol hou vol dit is ’n mite, maar prof. Michael Herbst wil hom nie so sterk daaroor uitspreek nie. Herbst werk voltyds as navorser vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) en is die uitvoerende bestuurder van die vereniging se advokatuur.
Volgens Herbst is Kansa tans besig met laboratoriumtoetse oor aspartaam en ander kunsmatige versoeters. Hy het Kansa se amptelike verklaring oor kunsmatige versoeters verskaf.
Die verklaring lui Kansa is bewus van die teenstrydige menings en internasionale debat tussen kundiges oor die veiligheid van kunsmatige versoeters. Kansa gee geen spesifieke mening nie, maar om onsekerheid te help takel is die vereniging besig met studies oor die veiligheid van vyf verskillende versoeters.
Die bevindings sal op Kansa se webwerf (www.cansa.org.za) en in ’n relevante navorsingstydskrif bekend gemaak word sodra dit gereed is.
Me. Bev Wium, ’n voedingskonsultant en sjef, het ’n sterk mening oor kunsmatige versoeters.
“As jou gesondheid vir jou kosbaar is, los kunsmatige versoeters. Ek dink dit is heel moontlik dat die skokkende stories en ‘mites’ wat ’n mens oor aspartaam hoor greintjies waarheid kan bevat.”
Wium beveel aan dat haar diabetiese pasiënte eerder Agave-nektar gebruik in plaas van versoeters.
“Agave-nektar is ’n heuningagtige stroop wat al in antieke tye deur die Asteke gebruik is. Dit word nou geloof as ’n nuwe, gesonde alternatief vir suiker. Die nektar is afkomstig van die blou agave-plant wat ook gebruik word om tequila te maak.”

Wat van verslankers?
Silber meen kunsmatige versoeters speel ’n belangrike rol tydens die verslankingsproses.
“Kunsmatige versoeters sorg dat kos lekker proe vir verslankers terwyl hul algehele kilojoule-inname minder is.”
Aangesien vetsug en tipe 2-diabetes in Suid-Afrika aan die toeneem is, word kunsmatige versoeters al hoe gewilder, sê Frichol. “Dit het ’n positiewe impak op mense se lewens.”
Wium meen egter kunsmatige versoeters is nie die antwoord vir verslankers nie.
“As jy wil verslank, eet natuurlike, verkieslik organiese kos, veral baie groen blaarkosse en groente. Beperk jou inname van dierprodukte – dit moenie meer wees as 10% van jou daaglikse dieet nie,” sê sy.
Me. Lila Bruk, ’n geregistreerde dieetkundige, moedig haar pasiënte aan om oormatige gebruik van aspartaam en ander kunsmatige versoeters te vermy.
“Ek beveel eerder klein bietjies gewone suiker aan. Die rede is dat kunsmatige versoeters jou nie gewoond maak aan ’n minder soet smaak nie, dus bly jy hunker na soetigheid.”
)?Wium kan gekontak word by www.bevwium.co.za. Bruk kan gekontak word by www.lilabruk.co.za. Vir meer inligting oor Canderel besoek www.canderel.co.za.

Wat is aspartaam?
Aspartaam is per ongeluk in 1965 deur James Schlatter, ’n navorser, ontdek.
Schlatter het in sy laboratorium die middel waarmee hy besig was op sy hande gemors. In gedagte het hy sy vinger afgelek om ’n stuk papier op te tel en die middel se soet smaak ontdek.
’n Versoeter soos Canderel kry sy soet smaak van aspartaam en kaliumasesulfaam (Ace-K). Aspartaam bestaan uit twee aminosure wat aanmekaar geskakel word en ’n soet smaak tot gevolg het. “Dié twee aminosure kom voor in ’n groot verskeidenheid ander voedselsoorte wat proteïen bevat, soos vleis, eiers en suiwelprodukte,” verduidelik Silber. Ace-K is ’n wit, reuklose poeier wat nie deur die liggaam opgeneem word nie. Dit word onveranderd deur die niere uitgeskei.
Aspartaam word in die liggaam afgebreek in drie komponente: aspartiese suur, fenielalanien en ’n klein hoeveelheid metanol.
“Mense wat ly aan ’n skaars genetiese siekte, fenielketonuria, se liggame kan nie fenielalanien behoorlik afbreek nie. Dié mense moet hul inname van fenielalanien beperk en daarom word die teenwoordigheid van die bestanddeel op produkte met aspartaam, ook Canderel, aangedui,” voeg Frichol by.
Pols - Karla Janse van Vuuren

http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2011/01/19/B1/17/kjvvAspartameHB.html

 

Facebook

Google Plus

Twitter

YouTube